Meer oor Marieke
“Dis net genade, dat ek hier mag staan – voor U troon, en opkyk na bo.” (woorde uit lied: Ek is niks) Dit is hoe ek voel oor die bediening wat die Here aan my toevertrou het: DIS NET GENADE!
As eerstejaar argitektuurstudent het Jesus die Koning van my lewe geword. Deel van my kommunikasie met my Verlosser en Vader was en is om musiek vir Hom te skryf. Nadat ek en my man as predikantspaar in ons gemeente aangestel is, het ek my begin uitleef in ons gemeente se musiekbediening en geniet dit steeds terdee. Tien jaar nadat ek musiek begin skryf het, het die Here my so gelei en my die genade gegee dat ek die musiek kon begin opneem. In 2007 kon ek die eerste cd – AAN U VOETE, uitgee. Die tweede cd – VOOR U TROON het, deur die Here se groot genade in 2009 die lig gesien. Die derde cd – OP MY KNIEE, is in Oktober 2012 vrygestel.
Dit het nie regtig sin gemaak om musiek op te neem nie, maar tog het ek ‘n sterk begeerte gehad om verdere musiek wat geskryf is op te neem. Met aanvang van die volgende album het ek van die Here verstaan dat om musiek op te neem, deel van my pakket is, dit is hoe Hy my aanmekaar gesit het. Wat ‘n groot voorreg om in 2017 ‘n vierde album – IN U TEENWOORDIGHEID te kon vrystel. My laaste album – NET U ALLEEN – is oor 3 jaar geskryf en opgeneem, ingesluit die liedere in die ‘lockdown’ -tyd, vrygestel in 2021.
Die tyd van albums uitgee is nou verby en die nuwe tendens is om enkelsnitte of ‘n groepering van liedere uit te gee. Ek dank die Here dat Hy my dit gun om 20 September 2025, met ons gemeente se Damesoggend, drie nuwe liedere te kan vrystel.
Marieke praktiseer voltyds as professionele argitek in Bloemfontein. Sy bedien haar musiekbediening vanuit haar plaaslike gemeente, Leeuwberg Gemeente.